Owen de Scally - 18 Desember 2015

18 Desember 2015


Die Kommissaris
Suid Afrikaanse Polisiediens
Steynsrus
9515

Geagte Kaptein

KLAGTE TEEN AO LETSELEHA SAPD STEYNSRUS

Hiermee dien ek ‘n klagte van aanranding, intimidasie en regsverydeling in teen AO Letseleha van die SAPD te Steynsrus.

1. Op Maandag 14 Desember 2015 om ongeveer 09:15 het Wanda du Plessis saam met ‘n getuie Martie Strydom, ‘n brief wat ek geskryf het aan die eienaar van beeste wat my eiendom beskadig het, aan daardie eienaar oorhandig. Die brief is buite die hekke van die polisiestasie van Steynsrus aan die eienaar oorhandig en die inhoud daarvan is deur middel van ‘n siviele tolk aan die eienaar verduidelik. Hierdie is ‘n siviele aangeleentheid en het NIKS met die SAPD te doen nie. Die SAPD is ook nie versoek om betrokke te wees nie!

2. Op dieselfde dag om ongeveer 10:00 het daar ‘n polisievoertuig voor my eiendom gestop en toeter geblaas. Ek is na die hek van my eiendom en AO Letseleha het uit die voertuig geklim en vinnig en doelgerig op my afgestorm met ‘n dokument in sy hand. Terwyl hy nog besig was om op my af te storm, het hy reeds op my begin skreeu. Hy het so hard en vinnig geskreeu dat ek glad nie kon uitmaak wat hy sê nie. Ek kon net hier en daar enkel woorde uitmaak van “beeste” en “daardie vrou” en iets van “skryf”. Toe AO Letseleha binne reik afstand van my was en terwyl hy nog op my skreeu, het hy die dokument in sy hand herhaaldelik en fisies in my gesig gedruk. Daardie dokument was slordig opgevou met ‘n skerp punt en ek het gevrees dat AO Letseleha my oog kon beskadig met daardie dokument. Ek het die dokument by AO Letseleha geneem waarna hy in die polisievoertuig gespring het en weggejaag het teen ‘n astronomiese spoed. Ek was baie verbaas dat AO Letseleha nie die polisievoertuig gerol het of ‘n ander ongeluk veroorsaak het nie. AO Letseleha het heeltyd so vinnig en aanhoudend geskreeu dat ek nooit die geleentheid gekry het om te vra wat aangaan nie. Ek lê ‘n klagte van aanranding en intimidasie teen AO Letseleha.

3. Eers toe AO Letseleha weg was het ek besef dat die dokument waarmee hy my aangerand het, die brief was wat Wanda du Plessis vroeër die oggend aan die eienaar van die beeste oorhandig het. Hierdie brief was die begin van ‘n siviele regsgeding en die SAPD het geen reg of jurisdiksie om in te meng in hierdie saak nie. Ek lê hiermee ‘n klagte van regsverydeling teen AO Letseleha.

Ek verwag van u om onverwyld en sonder versuim teen AO Letseleha op te tree vir die kriminele klagtes wat ek hiermee indien.


Die uwe