Wanda du Plessis - 18 Desember 2015

18 Desember 2015


Die Kommissaris
Suid Afrikaanse Polisiediens
Steynsrus
9515

Geagte Kaptein

KLAGTE TEEN AO LETSELEHA SAPD STEYNSRUS

Hiermee dien ek ‘n klagte van intimidasie, viktimisasie en ‘n poging om my ernstig te beseer in teen AO Letseleha van die SAPD te Steynsrus.

1. Op Maandag 14 Desember 2015 om ongeveer 09:15 het ek saam met ‘n getuie Martie Strydom, ‘n brief wat mnr Owen de Scally geskryf het aan die eienaar van beeste wat sy eiendom beskadig het, aan daardie eienaar oorhandig. Die brief is buite die hekke van die polisiestasie van Steynsrus aan die eienaar oorhandig en die inhoud daarvan is deur middel van ‘n siviele tolk aan die eienaar verduidelik. Hierdie is ‘n siviele aangeleentheid en het NIKS met die SAPD te doen nie. Die SAPD is ook nie versoek om betrokke te wees nie!

2. Op dieselfde dag om ongeveer 12:00  was ek in die terrein van die munisipale toetsterrein van Steynsrus. Toe ek die toetsterrein wou verlaat, het daar ‘n polisievoertuig voor die hek van die toetsterrein die uitgang blokkeer sodat ek nie uit die terrein kon beweeg nie. Die polisievoertuig het met die voorkant van die voertuig teen die rigting van die aankomende verkeer gestaan. Daar was egter nog ‘n voertuig agter my wat die terrein wou verlaat en het die polisie beampte vorentoe gery sodat die voertuie uit die terrein kon beweeg. Met die uitbeweeg wys die polisiebeampte my dat ek moet aftrek. Ek het oor die pad gery en op die sypaadjie parkeer. Die polisievoertuig het ‘n toe ook oor die pad gery en agter my voertuig parkeer. Ek en my getuie, Martie Strydom, het uitgeklim en ons het na die bestuurskant van die polisievoertuig gestap.

Voordat ek kon vra wat is die probleem, het AO Letseleha op my begin skreeu met hierdie woorde: “jy het daardie vrou se bees gesteel en ek gee jou 24 uur om daardie bees aan haar te gee of ek arresteer jou.” Hy het hierdie woorde drie keer herhaal en my nie een keer die kans gegee om te vra wat is nou eintlik die probleem nie. Ek het opgemerk dat AO Letseleha nie ‘n naambalkie dra nie. Ek vra toe AO Letseleha kalm en beleefd wat is jou naam? Hierop het hy heftig gereageer en nog harder op my geskreeu met die woorde: “My naam het niks met jou te doen nie en ek sê nou vir jou as jy nie binne 24 uur die gesteelde bees aan die vrou gee nie arresteer ek jou en sluit jou toe”. Hy het nog verder geskreeu: “Jy moet binne 24 uur daardie bees na die skut vat dan sal ek persoonlik die bees na daardie vrou vat.” Verder skreeu hy: “As jy nie binne 24 uur daardie bees na die vrou vat nie, sal ek persoonlik daardie vrou by die lokasie gaan haal sodat sy ‘n diefstal klag teen jou maak en dan gaan ek jou arresteer.”

Hierna het AO Letseleha, terwyl ek langs die polisievoertuig nog gestaan het, na my kant toe gedraai met die voertuig en met ‘n vaart weggetrek. Martie Strydom het dadelik besef wat gaan gebeur en het my net betyds weg van die polisievoertuig geruk. Daar is geen twyfel dat AO Letseleha gepoog het om my raak te ry nie.

Ek en Martie Strydom het toe in die motor geklim en opgemerk dat AO Letseleha net ongeveer 40 meter vêr gery het toe hy ‘n u-draai maak en parkeer met die polisievoertuig op die sypaadjie reg inlyn met my voertuig maar aan die ander kant van die pad. AO Letseleha het niks gesê of gedoen nie behalwe om my stip aan te kyk nie. Ek het toe huis toe gery.

3. Ek wil net noem dat die betrokke bees laat die middag van 3 Desember 2015 op mnr de Scally se eiendom was en die bees het self die eiendom verlaat. Die oggend van 4 Desember was dieselfde bees weer op mnr de Scally se eiendom en het weer self die eiendom verlaat. Die eienaar van die bees was op 4 Desember by ons huis om die saak van die skade te bespreek en het voor konstabel Tshepo Sephiri erken dat haar beeswagter nie na die beeste omgesien het nie en dat sy bewus is dat die beeste na die dorp beweeg het. Dit was 10 dae voordat AO Letseleha my valslik beskuldig het!!

4. Ek was op dieselfde dag om ongeveer 18:45 by die Steynsrus polisiestasie en het sodoende AO Letseleha se naam en rang bekom.

Ek verwag van u om onverwyld en sonder versuim teen AO Letseleha op te tree vir die kriminele klagtes wat ek hiermee indien.


Die uwe



Wanda du Plessis