Wanda du Plessis - 29 Julie 2013

29 Julie 2013


VS-Inspektoraat Klagtes
SAPD
Bloemfontein


Geagte Kolonel van Rensburg

UITERS SWAK OPTREDE VAN SAPD STEYNSRUS

In opvolg van my epos gedateer 25 Julie 2013 is dit vir my skokkend om te bevestig dat tot op hierdie oomblik was daar nog geen reaksie vanaf die SAPD in Steynsrus nie. Duidelik besef die polisie nie die erns van hierdie misdaad nie of die algemene intellektuelevlak laat dit nie toe dat die polisie tot hierdie besef kom nie.

Wanda du Plessis was ‘n ooggetuie van die inbraak by my huis. Sy was net toevallig in die straat. Op geen wyse het sy die inbreker gekonfronteer nie. Nogtans het hy haar summier aangeval en die wyse waarop hy haar aangeval het laat by my geen twyfel dat hy haar wou vermoor nie. Noudat hy nie met die moord kon slaag nie maak dit Wanda du Plessis nou ‘n ooggetuie nie net van die inbraak nie maar ook van poging tot moord. Nou het hierdie krimineel nog meer rede om Wanda du Plessis te vermoor.

Hierdie aanvaller is waarskynlik ‘n ou geharde krimineel wat moontlik al voorheen gemoor het en wat ook besef dat iemand wat hom kan uitken hom weer in die tronk kan laat beland. Die laaste paar maande was daar ‘n vlaag van brutale rooftogte in Steynsrus. Indien hierdie aanvaller ook verbind word met die vorige rooftogte, kan ek waarborg dat Wanda du Plessis se lewe kritiek in gevaar is. Aangesien die inbreker in my motorhuis ingebreek het terwyl my motor daar was, sal hy natuurlik die motor herken wat beteken dat Wanda du Plessis se dogter en myself ook nou in gevaar is. Wanda en haar dogter lewer twee maal per week gemeenskapsdiens in die plaaslike lokasie en u kan besef dat dit hulle nou ‘n oop teiken is vir hierdie krimineel.

Tans lewe Wanda, haar dogter Petro Beukman en myself in vrees. Ons weet nie wanneer die aanvaller saam met van sy trawante in die dag of nag gaan terugkeer na die huis om sy halfvoltooide werk te kom afhandel nie. Wanner ons na die winkels moet gaan doen ons dit in vrees dat ons en die motor herken kan word. Wanda en Petro sal die gemeenskapsdiens in die lokasie vir tyd en wyl moet stop, dit sal ‘n selfmoordsending wees om hulle twee nou die lokasie te laat binne gaan. Danksy die slegtigheid van die polisie sal hierdie situasie dalk vir ‘n onbepaalde tydperk moet voortgaan wat moontlik ‘n uitwerking op hulle werke kan hê.

Dit is nou reeds ‘n week na die aanval en nog steeds is daar geen ondersoek gedoen nie, geen verklaring is afgeneem nie, geen saaknommer is toegeken nie en na my wete is hierdie voorvalle op geen rekord van die polisie nie. Dit beteken natuurlik dat daar geensins na die krimineel gesoek word nie, dit ten spyte daarvan dat Wanda persoonlik die saak by die stasie aangemeld het slegs minute na die aanval. Die twee beamptes wat die perseel uiteindelik besoek het gee ‘n nuwe betekenis aan die woorde treurigheid en belangeloosheid. Die beamptes het nie eers uit die voertuig geklim om te sien waar die inbraak of die aanval plaasgevind het nie. Ek het persoonlik waargeneem dat die beamptes met ‘n absolute traak-my-nie agtige houding na Wanda geluister het oor die gebeure en toe hulle daar wegry kon mens dit duidelik agterkom hulle gaan geen moeite doen om na enige iemand te soek nie. Met inagneming van die erns van die voorvalle en die feit dat daar nou drie mense vrees vir hulle lewens, kan die optrede van hierdie beamptes net beskou word as laks en nalatig OF dit was growwe rasisme aan die kant van die polisie. ‘n Ondersoek na hierdie twee beamptes se laakbaregedrag en ‘n tugverhoor met ‘n skorsing sal verwelkom word. Almal in Steynsrus en ons plaaslike lokasie kla oor die ignorering en patetiese optrede van die polisie. Almal is dit eens dat dit ‘n mors van tyd is om met enige saak na die polisie te gaan. Waarvoor het ons ‘n polisiestasie? Wat maak die beamptes in die mag as hulle te sleg is om hulle werk te doen? Dit is lankal tyd dat daar ‘n hoë profiel ondersoek gedoen word na die werksaamhede van hierdie stasie in die algemeen.

Die gebeure en sienswyses word nie gedramatiseer nie. Daar is ‘n algemene gevoel onder lede van die publiek dat die polisie in Steynsrus nie hulle werk doen nie. Dit is verstaanbaar want dit gebeur gereeld dat daar niemand by die stasie is wat die publiek kan bystaan nie en as ek reg kan onthou het u ‘n klompie maande gelede persoonlik dieselfde ervaring by hierdie stasie ondervind. Die situasie hier is verstaanbaar. Die stasiebevelvoerder is bittermin op kantoor en daar is dus niemand wat die vinger op die pols kan hou nie. Gevolglik word daar op ‘n daaglikse basis amptelike voertuie by winkels gevind en waar beamptes besig is met hulle inkopies. Verder bedryf die polisie hier ‘n pendeldiens tussen die dorp en die lokasie. Soms word die voertuie so oorlaai met passasiers dat die agterste deure nie eers kan toemaak nie. In beginsel is daar nie ‘n probleem met die gedagte dat passasiers vervoer word as deel van ‘n gemeenskapsdiens wat gelewer word nie. Maar wat word gedoen as die voertuig geradio word in ‘n krisis? Word die passasiers eers by hulle bestemming afgelaai voordat hulle op die oproep reageer?

Aangesien die polisie na ‘n week nog nie ‘n vinger gelig het om die saak te ondersoek nie, stel ek dit derhalwe op rekord dat indien enige van Wanda du Plessis, Petro Beukman of myself deur hierdie krimineel op enige wyse aangeval, beseer of gedood word en indien daar by my huis deur hierdie krimineel ingebreek word of indien Wanda of Petro enigsins benadeel gaan word in hulle werke omrede hulle nie meer gemeenskapsdiens kan lewer nie, sal die polisie ten volle daarvoor verantwoordelik gehou word en sal daar nie geskroom word om ‘n regsaksie teen die polisie in te stel nie.


Die uwe





O R de Scally