O R de Scally - 15 November 2013 - Beeste

15 November 2013


VS-Inspektoraat Klagtes
SAPD
Bloemfontein


Geagte Kolonel van Rensburg

UITERS SWAK OPTREDE VAN SAPD STEYNSRUS – RONDLOPER BEESTE

Vir omtrent drie maande word ek en die inwoners van Steynsrus geterroriseer deur rondloper beeste vanaf ons plaaslike lokasie. Draadheinings word platgetrap en tuine word vernietig. My heining is nou reeds drie keer platgetrap. Hierby fotos van ‘n paar heinings asook van die beeste.

Terwyl ons duisende rande se skade ly en die SAPD duisende kere gevra is om ons te help, het ons feitlik geen reaksie vanaf die SAPD gekry nie. Inwoners wat die SAPD skakel se oproepe word summier geignoreer. Waar daar wel op ‘n oproep gereageer word, word die publiek uiters onbeskof behandel en word daar geen hulp aangebied nie. Wat het van die SAPD se missie geword dat almal se eiendom beskerm moet word??

Ek het een van die beeste wat my heining beskadig het se brandmerk bekom en dit aan die SAPD voorsien soos hulle voorgestel het. Na ‘n week is daar nog geen poging aangewend om
die eienaar se besonderhede op te spoor nie. Dit het my net 5 minute geneem om die eienaar se besonderhede by die Veediefstaleenheid te kry. Het die SAPD lede nie geweet hoe nie of was dit weereens net laksheid aan hulle kant? Ek het die eienaar van die beeste se besonderhede aan die SAPD voorsien soos hulle voorgestel het met die verstandhouding dat hulle die eienaar sal inbring sodat ons die skades met die eienaar kon bespreek. Vir drie weke lank het ek feitlik elke dag met lede van die SAPD geskakel om te verneem wanneer die eienaar nou ingebring gaan word. Geen reaksie nie! Ek het na die drie weke met kolonel Shieling van Kroonstad geskakel en die situasie verduidelik. Daar was dadelik ‘n voertuig met ‘n beampte vanaf Kroonstad gestuur om die SAPD lede van Steynsrus ‘n bietjie wakker te maak. Hierdie beampte het ook twee lede van Steynsrus na my gebring en hy het hulle duidelik laat verstaan dat hulle dadelik die eienaar van die beeste moet gaan haal sodat die aangeleentheid bespreek kan word. Binne ‘n uur was die eienaar by my huis. Hoekom was dit nodig dat iemand van Kroonstad hierheen moes kom voordat Steynsrus se beamptes kon reageer. Die wakkermaak het nie lank gehou nie, omtrent net vir drie ure.

Op Dinsdag 15 Oktober het daar ‘n bees deur die drade van ‘n privaat koshuis oorkant my huis deurgebreek. Die kinders wat oppad skool toe was het histeries begin raak toe die bees, ‘n groot swart bul, al hoe nader aan hulle beweeg. Ek het ook die indruk gekry dat die bul die kinders gaan bestorm. Dieselfde bul was verskeie kere op my erf en het ook op ons afgestorm. Ek het die SAPD geskakel en konstabel Mokadsane en nog twee vroulike beamptes het opgedaag. Sonder om eers moeite te doen om uit die voertuig te klim, deel Mokadsane my mee, baie onbeskof maar ten minste baie eerlik, dat hy nie weet wat om in so situasie met ‘n bees te doen nie. Wat egter baie erg was toe een van die vroulike beamptes op my skreeu dat ons nou moet ophou met ons klagtes oor die beeste en dat dit ons eie skuld is dat die beeste ons heinings breek omrede ons ons hekke oop los. (Jammer maar my IK laat my nie toe om hierdie redenasie te verstaan nie) Hierdie bewering is egter snert omdat ons reeds ons hekke toe hou om die beeste uit ons erwe te hou. Verder beweer sy toe dat dit onmoontlik is vir ‘n bees om ‘n draadheining te breek. Dat so ‘n astrante konstabeltjie op so vieslike onbeskofte wyse haar onkunde moet ten toon stel! Terwyl die vrou nog praat, kom die os wat in die koshuisgronde was, trap die draad plat en stap doodluiters uit. Toe ek die beampte daarop wys wat so pas gebeur het met die os en die draad, ruk sy haar op net soos ‘n skoolkind en maak sy haar venster toe dat ek nie verder met haar kan praat nie. Wat ‘n verleentheid moet hierdie konstabel vir die SAPD wees! Mokadsane het toe dadelik weggery. Na sowat ‘n halfuur skakel ek vir Mokadsane by die stasie en vra hom wat die betrokke vroulike beampte se naam is. Hierop deel Mokadsane my mee dat haar naam niks met my te doen het nie. Ek het gesê dat ek ‘n klagte teen haar wil indien waarop Mokadsane my meedeel haar naam is “Confidential Information”. Nogal ‘n seldsame naam vir ‘n dame maar as ‘n lid van die SAPD sê dit is haar naam dan glo ek dit. Dit het nie eers een keer by my opgekom dat Mokadsane dalk kon verwys het na “Vertroulike Inligting” nie, wie sal nou so iets sê terwyl almal naamplaadjies dra! Is sy belangriker as die Staatspresident, almal mag weet wat is sy naam!

Behalwe vir die skade wat die beeste reeds aangerig het, het ons geen gebruik meer van ons erwe nie. Tuinslange word stukkend getrap, beddings en plante en vrugtebome word vernietig. Daar is mense, soos myself, wat groente plant en van daardie groente afhanklik is. Die plantseisoen is so te sê verby wat beteken daar gaan glad nie hierdie jaar geplant word nie. Die beeste het ek talle maal in die dag en ook in die nag uit my erf gejaag. Maar ons as publiek word nie deur die SAPD gehelp nie. Ten minste kan die SAPD probeer om die eienaars van die beeste op te spoor of selfs die beeste uit die dorp te verjaag. Baie van die beeste se brandmerke is onleesbaar of het hoegenaamd geen brandmerk nie. Kan hierdie beeste nie geskiet word nie? Hoe anders moet ons eiendomme beskerm word? Dwing die SAPD ons om wet in eie hande te neem omdat hulle waarkynlik te laks is om die publiek by te staan? Geen wonder baie mense begin dink aan Ureum nie.

Om met die stasiebevelvoerder te praat is hopeloos. Soos ‘n lid van die publiek tereg opmerk is dat daar meer reaksie van ‘n baksteen verkry word as jy daarmee praat as wat daar ‘n reaksie by die stasiebevelvoerder verkry word as daar oor die beeste gepraat word. Dit laat my wonder hoeveel van hierdie rondloper beeste behoort aan SAPD lede, is dit dalk hoekom hulle so laks is om die publiek by te staan met hierdie probleem?

Hoekom kan die SAPD in Steynsrus maar nie net hulle werk behoorlik doen nie, dan sal dit nie nodig wees om die SAPD te Kroonstad te nader vir hulp nie en sal die Inspektoraat se tyd ook nie so gemors word met al die klagtes nie.



Die uwe



O R de Scally